SUID-AFRIKAANSE BRANDEWYNE NOU OOK DEEL VAN GESOGTE VERITAS KRING

Dit is met genoeë dat die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting bekend maak dat die gesaghebbende jaarlikse Veritas Toekennings oopgestel is vir brandewyn. Dié splinternuwe Veritas kategorie bied die Suid-Afrikaanse brandewynbedryf – wat tot op hede meestal tot internasionale kompetisies beperk is – die geleentheid om op plaaslike vlak mee te ding en sy gehalte ten toon te stel.

Die verskeie kategorieë van brandwyn (potketel-, ‘vintage’- en standaard) sal in hul onderskeie klasse deelneem. Brandewynprodusente wat graag die gesogte dubbelgoud, goud, silwer of brons toekennings wil verower het tot 17 Augustus 2010 om in te skryf vir Veritas.

Volgens Riaan Marais, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Brandwynstigting: ‘Deelname aan Veritas verskaf ‘n belangrike nuwe platform om die volgehoue uitstaande gehalte van Suid-Afrika se brandewyn te verkondig, wat volgens van die strengste regulasies in die węreld gedistilleer word.

‘Dit is veral verblydend dat brandewyn deel word van Veritas in die jaar waarin die land se grootste wynkompetisie sy 20ste bestaansjaar vier. Dié tydsberekening is uitstekend want 2010 is ook die jaar wat deur die brandewynbedryf opgedra is om Suid-Afrikaanse brandewyn se uitmuntende prestasies op internasionale wyn- en spirituskompetisies plaaslik te vier met bewusmakings-aksies en ‘n slagspreuk: ‘Suid-Afrikaanse brandewyn: die beste ter węreld.’

‘Verder is dit veral betekenisvol om deel te word van Veritas - ‘n nasionale kompetisie wat spesifiek spreek tot die Suid-Afrikaanse verbruiker.’ En tereg so, sę Marais voorts. ‘Want ons brandewyn, gekenmerk deur sy eg-Suid-Afrikaanse karakter, is afkomstig van ons eiesoortige grondtipes, sonnige klimaat en produksie-standaarde en, as sulks, bly dit een van ons land se waarlik nasionale produkte en mees kosbare drankies.’

Volgens Duimpie Bayly, voorsitter van die SA Nasionale Wynskou Vereniging wat Veritas aanbied, was dit ‘n eenparige besluit deur die raad om brandewyn as ‘n nuwe kategorie by te voeg. ‘Die Suid-Afrikaanse wyn- en brandewyn-industrieë deel ‘n trotse geskiedenis wat oor meer as 350 jaar opgebou is. Dat brandewyn, ‘n edele produk van die druif, nou deel word van Veritas, is ‘n natuurlike uitvloeisel van hierdie noue verwantskap.’

Soos in die geval van wyninskrywings, sal brandewyne beoordeel word deur spesialis-panele volgens die onomstrede Veritas beoordelings-sisteem, wat gekenmerk word deur sy streng en professionele benadering. Dave Hughes, een van Suid-Afrika se veteraan internasionale wyn- en spiritus- beoordelaars, sal as voorsitter dien van ‘n paneel bestaande uit plaaslike en internasionale brandewynkenners. Beoordeling vind plaas by Nederburg se Veilingskompleks in die Paarl vanaf 13 tot 20 September en die uitslae sal bekendgemaak word by ‘n gala geleentheid op 8 Oktober by die Kaapstadse Internasionale Konvensie-sentrum (CTICC).

Inskrywingsvorms en ‘n katalogus vir Veritas 2010 is beskikbaar by www.veritas.co.za. Skakel Veritas bestuurder Elsabé Ferreira op tel (021) 807 3104, faks (021) 863 2179 of epos elsabe@veritas.co.za


< back to Stories on Brandy